Volstrekte meerderheid vir DA in Kaap
2011-05-21 18:04
Kaapstad - Die DA het ‘n volstrekte meerderheid in verskeie Wes-Kaapse munisipaliteite, insluitende die Stad Kaapstad, behaal, luidens uitslae wat Saterdag deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekend gemaak is.
Die party het 135 setels in Kaapstad gewen, gevolg deur die ANC met 73, het Courtney Sampson, Wes-Kaapse verkiesingsbeampte, in ‘n verklaring gesê.
Die ACDP en Cope het albei drie setels behaal.
Die DA het 61,09 persent van die stemme in die stad gekry, met die ANC wat 33,03 persent gekry het.
Dit is die “finale voorlopige uitslae” vir die 2011-plaaslike verkiesings, maar moet nog deur die nasionale uitslaesentrum bevestig word, het Sampson gesê.
Die DA het 440 setels in die provinsie gewen en die ANC 283.
Die opkoms van kiesers in die Wes-Kaap het tot 64,37 persent gestyg van 2006 se 51,79 persent.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA