Verkiesing was moeilik, erken SAKP en Cosatu
2011-05-23 07:04
Johannesburg - Die ANC het ’n moeilike verkiesing agter die blad en sal ’n dringende poging moet aanwend om ’n verhouding met minderheidsgroepe op te bou, het sy alliansievennote erken.
Die regerende party het tot dusver grootliks gehamer op die suksesse wat hy in die afgelope plaaslike verkiesing behaal het, maar die SAKP en die vakverbond Cosatu het toegegee dit gaan nie so voor die wind soos wat ANC-ringkoppe voorgee nie.
Albei alliansievennote het in verklarings, waarin hy die ANC gelukwens met die 62%-steun wat hy landwyd behaal het, erken dit was nie ’n maklike verkiesing nie en dat talle ANC-ondersteuners weens binnegevegte van die stembus weggebly het.
“Talle brandarm gemeenskappe ly weens haglike behuising en gebrekkige dienslewering en hul woede is te verstane,” het Cosatu gesê.
Die vakverbond het opnuut geëis korrupsie, wanbestuur en die misbruik van openbare geld deur raadslede moet summier einde kry.
Intussen het die SAKP met verwysing na die groot steun wat die DA onder minderheidsgroepe behaal het, aangevoer die ANC staan voor die uitdaging om bruin mense, Indiërs en wit mense van sy “progressiewe en nie-rassige agenda” te oortuig. Die ANC sal ter wille van nasiebou ’n dringende poging moet aanwend, het dié party gewaarsku.
Die SAKP meen die DA se welslae – hy het 23,9%-steun landwyd behaal en is die enigste gevestigde party wat gegroei het – spruit daaruit dat hy minderheidspartye “óf uitgedun, óf ingesluk” het. Die verwikkeling het die potensiaal om minderheidsgroepe opnuut te oortuig hulle is onder beleg en dat hulle teen die ANC moet saamstaan.
Net soos die ANC het Cosatu die DA as ’n apartheidsparty gebrandmerk en sy “medelye” uitgespreek teenoor Kaapstad en Midvaal se inwoners wat nog vyf jaar lank met die DA se “wanbestuur en verwaarlosing” moet saamleef.
Die SAKP het aangevoer die media het vir Helen Zille se party verkiesingsveldtogte gevoer, terwyl hy die ANC as “boos” uitgebeeld het.
Nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) die uitslae Saterdagaand amptelik bekend gemaak het, het pres. Jacob Zuma gesê die hoë stempersentasie van 57,6% – die hoogste nóg in ’n plaaslike verkiesing – weerspreek aannames dat kiesers apaties is.
Al het die ANC se steun in agt provinsies afgeneem, het Zuma volgehou sy party het “dawerende” steun ontvang en dat kiesers se vertroue in die ANC opnuut by die stembus bevestig is.
Zuma sal binnekort met premiers vergader oor hoe provinsiale regerings munisipaliteite moet monitor om dienslewering te verseker. Hy het gesê administratiewe en finansiële stelsels moet dringend versterk word en dat munisipaliteite kundiges in kritieke poste moet aanstel.
- Volksblad