Tatane 'was kandidaat' – Cope
2011-05-19 18:00
Johannesburg - Andries Tatane, wat verlede maand tydens ‘n betoging teen swak dienslewering dood is, sou ‘n onafhanklike kandidaat in die plaaslike verkiesings gewees het, het Cope by die Onafhanklike Uitslaesentrum in Pretoria gesê.
Tatane het gestaan as ‘n onafhanklike kandidaat vir Wyk 14 in Ficksburg in die Oos-Vrystaat, ondanks die feit dat hy “steeds ‘n lid” van Cope was.
“Tatane was veronderstel om op ons proporsionele lys te wees, maar hy het toe besluit om ‘n onafhanklike kandidaat te word,” het Dennis Bloem, ‘n Cope-beampte, aan Sapa gesê.
“Ek weet nie hoekom hy dit gedoen het nie, maar hy was steeds ‘n aktiewe lid van Cope toe hy dood is. Hy het nooit amptelik bedank nie.”
Nóg ‘n Cope-lid het gesê Tatane was geregistreer op Cope se proporsionele lys.
Die Times Live-webwerf het egter beweer Tatane het Cope verlaat en was nie ‘n geregistreerde kandidaat nie.
Tatane se vrou, Rose, het Woensdag by die plaaslike Metodistekerk haar kruisie getrek, het sy aan die Times gesê.
“Andries kyk na my vanaf die ander kant van hierdie wêreld, glimlaggend en gelukkig dat ek stem vir die verandering wat hy so graag in Ficksburg wou sien.”
Sy het gesê sy het vir haar man se onthalwe gestem, omdat hy “almal in die huis sou wakkermaak om te gaan stem”.
Tatane is op 13 April dood toe polisiebeamptes hom na bewering met rubberkoeëls in die bors geskiet en met knuppels geslaan het tydens ‘n betoging in die Meqheleng-township.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA