Skop wolwe in skaapklere uit, sê Lekota
2011-05-12 09:53
Kimberley - ‘‘Skop die wolwe in skaapklere uit, moenie weer vir hulle stem nie, laat Cope toe om vir die volgende vyf jaar te bewys wat skoon regering werklik is.’’
Dit was die woorde van Mosiuoa Lekota, nasionale Cope-leier, wat Dinsdagaand in Galeshewe in Kimberley sy ondersteuners toegespreek het.
“Gaan uit en verkondig die woord by die kerk en die werk, en vertel vir jou buurmanne ons ondersteun die morele waardes van oudpresident Nelson Mandela. Hy het nie rassehaat en spanning en konflik aangeblaas soos pres. Jacob Zuma en klein Julius Malema nou doen nie.”
Lekota het gesê hy onthou hoe wyle Peter Mokaba deur Mandela aangespreek is oor die berugte liedjie.
“Mandela het vrede verkondig ná 1994. Hy wou saamwerk om Suid-Afrika beter vir almal te maak. Onder die drieletterparty het dit nou net ’n beter lewe vir sommiges geword.
“Ek het oorkant Mandela in die tronk op Robbeneiland gebly. Ek was jonk, en het my politiek by die ouer en wyser manne geleer.
“Die kos in die tronk was swak en sleg. Ons het nie eens melk of vrugte gekry nie. Ons het gely, soos wat die armes nou ly.”
Lekota sê hulle wou vrede en versoening bewerkstellig om die demokrasie te vestig. “Ons wou dit Pula Nala maak – vrede, reën, oes, vet beeste en voorspoed – soos in die Vryheidsmanifes.
“Maar waar is die vrede en versoening? Die regering blaas net rassehaat aan. Julle moet jul stemreg as ’n wapen gebruik. Die regering moet verander en korrupsie moet uitgeroei word. Die grootste slagoffers daarvan is die arm mense.
“Hoekom weet die Sondagkoerante van knoeiery binne die regering waarvan die president nie weet nie?
“Ek kan ook nie onthou dat klein Malema die jackpot gewen het nie, waar kom hy aan al sy geld,” het Lekota gevra onder luide toejuiging.
“Die Here het ons die hart en verstand gegee om te dink oor waar ons ons kruisies trek. Dis nou tyd om die wolwe uit te skop, anders kry ons net kosblikke elke vyf jaar.”
Cope se leiers sal volgens Lekota aan die mense verslag doen oor elke sent wat bestee word in plaaslike regering.
“Wees versigtig vir leë beloftes. Hoe kan Zuma sê julle moet nou stem, dan maak hulle die foute met kandidaatkeuse later reg? Hulle het ons genoeg belieg,” het hy afgesluit.
- Volksblad