NK se kiesers gretigste
2011-05-19 07:14
André Botha, Charné Kemp en Frans Coetzee
Bloemfontein - Vreedsaam met min voorvalle en dalk die hoogste stempersentasie in die land.
Dit was Woensdag die kenmerke van die munisipale verkiesing in die Noord-Kaap waar van die felste stryde buite die groot metropole Woensdag gewoed het.
Noord-Kapenaars was Woensdag baie lus om vroeg te stem en het met elke twee-uurlikse telling van kiesers bo-aan die lys gestaan.
Teen toemaaktyd het 55% Noord-Kaapse kiesers (320 000) gestem, teenoor KwaZulu-Natal se 42% (1,9 miljoen).
Met die 17:00-telling het sowat 48% (265 000) Noord-Kaapse kiesers hul kruisies getrek. KwaZulu-Natal was tweede met 37% (1,7 miljoen) en Noordwes met 35% (550 000). Met die telling om 15:00, 13:00 en 09:00 was die Noord-Kaap elke keer in die eerste plek met die hoogste stempersentasie.
Bonolo Modise, die Noord-Kaapse hoofverkiesingsbeampte, het Woensdagaand gesê hy verwag die geouditeerde Noord-Kaapse uitslae gaan weer heel eerste van alle provinsies bekend wees. “Dit is al ’n tradisie en ons trots.”
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het vroeër aangedui hy hoop op ’n stempersentasie van 65%. Teen laatmiddag het die strome kiesers by die meeste stemlokale begin opdroog, hoewel talle kiesers nog by stemlokale met groot kieserstalle gestaan en wag het om te stem.
In die Siyanda-streek was voorsittende beamptes en partyverteenwoordigers dit eens dat die verkiesings vlot verloop het.
Diensleweringskwessies het telkens opgeduik wanneer om redes gevra is waarom mense kom stem het.
Veral opposisiekiesers het dit hoog op die agenda geplaas, maar dit is ook deur sommige ANC-ondersteuners genoem.
Maar ontevredenheid ten spyt was daar die geswore ANC-ondersteuners soos die kieser wat gesê het hy wil nie vir die “wieletjiesparty” (Cope) stem nie.
Op De Aar het Hazel Jenkins, Noord-Kaapse premier, gesê sy staan soos ’n gewone landburger in die ry en wag om te stem, want sy is nie swanger of gestremd nie.
Verskeie bekende sakemanne, politici en sportmanne het Woensdag in die Diamantstad gestem.
By die Laerskool Du Toitspan het mense in die rye veral oor die slaggate gesels. Opmerkings soos hoekom daar so baie is, het opgeklink, en hoe dit reggemaak word het mense gegrief.
Een omstander het gesê dit help nie die munisipaliteit gooi dit vol sand nie. Met die onlangse baie reën het dit alles in ’n modderbad verander.
’n Vrou het gesê die nuwe regering het haar darem die kans gegee om verder te leer. Sy werk reeds jare by ’n kleuterskool en het nou die geleentheid om deur haar werk as ’n onderwyseres te kwalifiseer.
Maar ’n ander vrou was nie baie hoopvol nie.
“Ek is gatvol vir korrupsie. Gatvol. Ek sien dit elke dag by my werk. Poste wat nooit geadverteer word nie, word vinnig gevul met onbekwame mense wat te veel geld verdien.”
In die munisipale gebied Joe Morolong het die Gamokatedi-stemlokaal laat oopgemaak omdat inwoners ’n protesoptog gehou het.
Hulle het ook gevra vir ’n ander voorsittende beampte van die OVK (wat met die vorige verkiesing ook hier gewerk het).
Die OVK het ’n bemiddelaar gestuur en die samesprekings, tesame met die polisie se teenwoordigheid, het die situasie ontlont. Die stemlokaal is ná 40 minute weer oopgemaak.
By die Skilpadsaal in De Beers in Kimberley het Modise ook ’n klag van die DA oor die ANC-kandidaat, asook die OVK se voorsittende beampte, aangehoor.
Die bekende Isaacs-familie van De Beers het ook byna vuisgeslaan oor politiek.
Daar was verwarring op Platfontein waar die ouer lede van die Khwe-, !Kun-, !Komani- en !/Am-gemeenskap nie Afrikaans of Engels kan praat en die stembriewe lees nie. Hulle het nie geweet vir wie hulle stem nie.
- Volksblad