Enkele probleemareas voor verkiesing – Cele
2011-05-17 18:59
Johannesburg - Daar is enkele probleemareas wat die polisie se aandag benodig voor Woensdag se plaaslike verkiesings, het die nasionale polisiekommissaris, genl. Bheki Cele, Dinsdag gesê.
“Ek het vanoggend (Dinsdagoggend) met al die provinsiale kommissarisse gepraat en is baie tevrede met die situasie in al die provinsies tot dusver. Dinge is onder beheer,” het hy gesê.
Cele was Dinsdag in Ulundi om die polisie se gereedheid vir die plaaslike verkiesings te bespreek.
Hy het gesê hy ontang gedurig opdaterings van al die provinsiale kommissarisse oor die veiligheidsituasie.
Die enigste probleemareas is volgens hom Flagstaff en Pedi in die Oos-Kaap en Standerton in Mpumalanga.
“Ek het verslae ontvang dat die polisie die pad in Flagstaff afgesper het en ons het nog polisiebeamptes gestuur om in dié areas te help,” het Cele gesê.
Bykomende polisiebeamptes is ook na Wembezi in KwaZulu-Natal gestuur, waar daar spanning tussen die Inkatha Vryheidsparty (IFP) en die Nasionale Vryheidsparty (NFP) is, het hy gesê.
Ander areas in KwaZulu-Natal wat bykomende polisie-aandag ontvang is Nongoma, Ulundi, Umsinga, Lindelani en hostelle in Durban.
Cele is beïndruk met die vlak van politieke verdraagsaamheid tydens die veldtog vir die verkiesing en het gesê daar was betreklik min gevalle van politieke onverdraagsaamheid, vergeleke met vorige verkiesings.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie is slegs 23 klagtes in KwaZulu-Natal aanhangig gemaak sedert die begin van die verkiesingsveldtog.
Daar was in die vorige verkiesing 200.
Cele het gesê die polisie is op soek na die man wat ‘n sluipmoordenaar gestuur het om Obed Qulo, ‘n ANC-kandidaat in Newlands-Oos, Durban, dood te maak.
Die ANC het gesê dié aanval was polities gemotiveerd.
Qulo het ontsnap nadat hy daarin geslaag het om die sluipmoordenaar te oorweldig.
“Ons het ‘n man in hegtenis geneem wat ‘n verkiesingskandidaat Maandag probeer doodmaak het,” het Cele gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA