Eerste Cope-burgemeester ingesweer
2011-05-31 19:54
Johannesburg - Die eerste burgemeester in Suid-Afrika wat ‘n lid van Cope is, is in die Karoo Hoogland-munisipaliteit as burgemeester ingesweer.
Jan Julies is verkies ná ‘n koalisie-ooreenkoms tussen die DA en Cope, het Cope in die Noord-Kaap in ‘n verklaring gesê.
Die burgemeester-posisie is aan Cope toegeken, aangesien dié party 31 persent van die stemme in die munisipaliteit in die verkiesing gekry het, vergeleke met die DA se 21 persent.
Die munisipaliteit sluit die dorpe Sutherland, Williston en Fraserburg in. Die ANC was voorheen in beheer van die munisipaliteit.
“Die eerste ding wat ons as die nuwe raad moet doen, is om te verseker dat politiek en administrasie heeltemal van mekaar verwyder word. Ons is hier om ons gemeenskap te dien en nie ons politieke partye nie,” het Julies gesê.
Julies se eerste daad as burgemeester was om alle vakante poste te vries totdat die raad vergader het om die begroting, wat deur die vorige, ANC-beheerde raad opgestel is, te hersien.
“Die koalisie is bekommerd daaroor dat die salarisse van munisipale werknemers op die oomblik 51 persent van die begroting in beslag neem. Armoede en werkloosheid is wyd versprei, aangesien die meeste mense in die munisipaliteit van seisoenale plaasarbeid afhanklik is vir hul inkomste.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA