ANC vat Jhb met 1,2 miljoen stemme
2011-05-20 07:44
Pretoria – Die ANC het met meer as 1,2 miljoen stemme beheer oor die Johannesburg-metro gewen, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) Vrydag gesê.
Volgens die finale uitslae wat bekend gemaak is, het die ANC 1 272 354 stemme gekry en 153 uit 260 setels gewen.
Die party het 59% van die 2 154 506 stemme gekry, terwyl die Demokratiese Alliansie die tweede grootste party is met sowat 35% van die stemme wat hulle 90 setels gewen het.
Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en Cope het onderskeidelik vier en drie setels gewen.
Die ANC, DA en IVP was die enigse partye wat wyke gewen het, terwyl die ander 10 partye setels deur middel van proporsionele verteenwoordiging gewen het.
Die ANC is ook die grootste party in Ekurhuleni met 62% van die meer as 1,55 miljoen stemme. Dié party het 125 van die 202 setels in die metro gewen.
Die DA was weer die tweede grootste party met bietjie meer as 30% van die stemme en 62 setels.
Die ANC en die DA was die enigste partye wat wyksetels gewen het. Die ander 10 partye het balans van setels deur proporsionele verteenwoordiging verseker.
Donderdag is bevestig dat die ANC in 'n taai stryd die wenner van die Nelson Mandelabaai-metro is. Dié party het 52,72% van die stemme en 63 van die 120 setels gewen.
Die DA het sowat 41% van die stemme en 48 setels gewen, terwyl Cope 5% van die stemme en ses setels gewen het.
Die volgende uitslag vir 'n metro wat bevestig moet word, is dié van Tshwane, waar 99% van die stemme teen Donderdagaand getel is. Die ANC het 55% van die stemme wat reeds getel is, gewen, terwyl die DA 38% van die stemme gewen het.
Die uitslae van Kaapstad en eThekwini (Durban) sal na verwagting Vrydag gefinaliseer word, met die DA wat die grootste party in Kaapstad is en die ANC die grootste in Durban.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA