ANC het reeds 60% van die stemme
2011-05-19 08:14
Pretoria – Die ANC het teen Donderdagoggend 07:00 meer as 60% van die 10,9 miljoen stemme in die plaaslike regeringsverkiesing gekry.
Volgens syfers van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), is 6,548,709 stemme in die guns van die ANC geplaas, terwyl die DA 2,790,862 van die stemme gekry het.
Dit is steeds onduidelik hoeveel van Suid-Afrika se 23,65 miljoen kiesers aan Woensdag se verkiesing deelgeneem het.
Adv. Pansy Tlakula, hoofkiesbeampte van die OVK, het Woensdag op 'n mediakonferensie gesê sy hoop dat ten minste 40% van die geregistreerde kiesers hul kruisie gaan trek het.
Van die 10,9 miljoen stemme wat deur 3,73 miljoen kiesers geplaas is, is 201 385 of 1,8% ongeldige stemme.
Teen 07:00 het die ANC 826 raadsetels, die DA 385 setels, Cope 40 en die Inkhata Vryheidsparty (IVP) 16 setels.
Die DA-woordvoerder vir Tshwane het gesê die party het 38 van die 105 wyke in dié gebied gewen. Van die uitslae is steeds uitstaande.
In Nelson Mandelabaai blaas die DA in die ANC se nek.
Teen 07:00 het die OVK gesê die DA het 167,561 stemme teenoor die ANC se 172,379 stemme gekry.
Dit bly nie of pogings deur die ANC om beheer oor Wes-Kaapse munisipaliteite te herwin, vrugte afgewerp het nie.
Volgens die syfers van die OVK het die ANC 30,1% van die stemme in die provinsie gekry, met 59,4% vir die DA. Dít is gebaseer op 1,604,389 stemme wat deut 567 360 kiesers geplaas is.
'n Wyk in Randfontein in die weste van Johannesburg was die eerste om sy stemme klaar te tel. Die ANC het 57% van die stemme gewen en die DA 43%.
Nege mense was in wyk 74802011 geregistreer. Sewe van dié mense het gestem, met vier stemme vir die ANC en drie vir die DA.
Uitslae uit Gauteng dui aan dat die DA die voortou geneem het in Midvaal, terwyl die IVP en die Nasionale Vryheidsparty (NVP) meeding om die tweede plek.
Die NVP wat vroeër vanjaar deur Zanele kaMagwaza-Msibi, voormalige nasionale voorsitter van die IVP, gestig is, het 225,041 van die stemme teenoor die IVP se 326,438 gekry.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA