ANC en DA 'nek aan nek' in Kaap
2011-05-10 17:56
Kaapstad - Die ANC en die DA is nek aan nek in die stryd om Kaapstad in die opkomende munisipale verkiesings, het die DA se burgemeesterskandidaat, Patricia de Lille, Dinsdag gesê.
Sy het studente aan die Universiteit van Kaapstad toegespreek en gesê dit is belangrik vir elke ondersteuner van die DA om te stem en só te verseker dat die party mag behou.
“In 2006 het ons slegs 46% van die stemme gekry. Ons benodig elke DA-ondersteuner se stem op verkiesingsdag om ‘n volstrekte meerderheid te wen,” het De Lille gesê.
Sy het gesê Kaapstad is die bes-bestuurde munisipaliteit in die land en die mense wat daar woon moet verseker dat dit so bly deur te stem.
“Ons wil nie hê hierdie stad moet terugkeer na die dae toe die ANC in beheer was nie,” het sy gesê.
“As jy nie stem nie, loop jy die risiko om na die dae van die ANC terug te keer.”
Sy het belowe die DA sal ‘n sterker, meer inklusiewe stad bou.
Helen Zille, DA-leier, het gesê die party fokus op dienslewering en het ‘n vertoningslys om dit te bewys.
Sy het gevra mense moet vir die DA stem om die party toe te laat om voort te bou op die grondslag wat in die afgelope vyf jaar gelê is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA