ANC 'ekstaties' oor Nelson Mandelabaai
2011-05-19 21:58
Oos-Londen - Die ANC is ekstaties oor die oorwinning wat dié party in Nelson Mandelabaai behaal het, het die ANC se Oos-Kaapse leier, Phumulo Masualle, Donderdag gesê.
“Ons is absoluut gelukkig. Ons is ekstaties,” het Masualle in Oos-Londen gesê, kort nadat dit bekend geword het dat die party ‘n onaanvegbare voorsprong in die Nelson Mandelabaai-metropool het.
“Ons is gereed om Nelson Mandelabaai weer te bestuur. Ons sal aanhou om saam met opposisiepartye te werk om die lewens van die armes te verbeter. Dit is ons mees belangrike taak.”
Die OVK se Oos-Kaapse verkiesingsbeampte, Bongani Finca, het Donderdag gesê 99,6 persent van die stemme in die metro is reeds getel.
Volgens die OVK het die ANC 51,5 persent van die stemme gewen, die DA 40,24 persent en Cope 4,93 persent.
Die DA en Cope het gehoop om die ANC in die metro te ontsetel deur ‘n koalisie te vorm.
Helen Zille, DA-leier, het die metro vyf keer besoek tydens haar verkiesingsveldtog.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA