ANC af, DA op, NVP verras
2011-05-19 23:07
Johannesburg - Die plaaslike verkiesings het effens minder stemme vir die ANC beteken en heelwat meer vir die DA, volgens uitslae wat Donderdagaand bekend gemaak is.
Teen 20:00, toe 89,9% van die stemme getel was, het die regerende ANC 63,78 persent van die stemme gehad. Dit is effens minder as in vorige verkiesings.
Die hoof-opposisieparty, die DA, het in al nege provinsies beter gevaar as in vorige verkiesings en het landwyd 21,83 persent van die stemme gekry.
Die uitslae toon dat daar slegs twee werklike mededingers was in Suid-Afrika se vierde plaaslike verkiesings sedert 1994, met 121 partye wat aan vanjaar se verkiesing deelgeneem het.
Alhoewel die ANC steeds die sterkste party was, was dit sy swakste vertoning in vyf jaar. In die vorige plaaslike verkiesings in 2006 het die ANC daarin geslaag om 66,3 persent van stemme te wen. Die DA het toe 16,7 persent van die stemme gekry.
Die splinternuwe splinterparty, die Nasionale Vryheidsparty (NFP), wat drie maande gelede van die Inkatha Vryheidsparty weggebreek het, het selfs homself verras deur 2,61 persent van stemme landwyd te wen, vergeleke met die IVP se 4,02 persent.
Die DA het daarin geslaag om sy houvas op die Midvaal-munisipaliteit, die enigste munisipaliteit in Gauteng wat nie deur die ANC beheer word nie, te behou. Die regerende party het egter weer daarin geslaag om Nelson Mandelabaai, wat na verwagting ‘n taai stryd tussen die DA en die ANC sou oplewer, gemaklik te wen.
Die DA is weer oortuig van ‘n oorwinning in Kaapstad, waar uitslae teen 20:00 getoon het dat die DA 65,71 persent van die stemme teenoor die ANC se 28,42 persent het.
In die Wes-Kaap staan die DA op 58,34 persent van die steun en die ANC op 32,39 persent.
In Gauteng geniet die ANC 59, 87 persent van die steun, vergeleke met die DA se 33,38 persent. In Tshwane is die ANC seker van 56,02 persent van die steun en die DA van 37,95 persent.
In KwaZulu-Natal het die ANC 55 persent van die steun gewen, die IVP 20 persent, die NFP 12 persent en die DA nege persent.
In die Oos-Kaap is die ANC gemaklik voor met 73 persent, gevolg deur die DA (14 persent), Cope (vier persent) en die UDM (vier persent).
In die Vrystaat loop die ANC voor met 70 persent, gevolg deur die DA se 22 persent en Cope se vier persent.
Die regerende party was ook die oortuigende oorwinnaar in Noordwes (75 persent), Mpumalanga (79 persent) en Limpopo (82 persent).
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA