95% stemme klaar getel
2011-05-20 09:45
Pretoria – Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die uitslae vir 95,1% van die land se stemdistrikte teen 07:30 Vrydagoggend voltooi.
Tellery in die Noordwes en die Noord-Kaap is afgehandel.
Die Noordwes gaan aan die ANC met 1,8 miljoen (74,99%) stemme, gevolg deur die Demokratiese Alliansie met 395 648 (16,14%) stemme.
In die Noord-Kaap het die ANC ook koning gekraai met 677 438 (63,57%) stemme, weer gevolg deur die DA met 237 315 (22,27%) stemme.
Die ANC domineer steeds die telbord ná Suid-Afrika se vierde demokratiese plaaslike verkiesing.
Teen 07:00 het die ANC se totaal van die nasionale stemme op 20,5 miljoen (63,51%) gestaan, met die DA op sewe miljoen (22,26%)
Die berekening van die setels is 76,26% afgehandel, met 212 van 'n totaal van 278 wat reeds toegeken is.
Die provinsie met die meeste aantal setels wat getel moet word, is KwaZulu-Natal met 25 munisipaliteite wat oorbly.
In Limpopo moet 15 setels toegeken word, gevolg deur die Oos-Kaap en die Vrystaat met 10 elke, Gauteng met drie en Mpumalanga twee.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA