Malema: 'Ons hoef nie vir grond te betaal'
2011-06-14 23:15
Kaapstad - Die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, meen Suid-Afrikaners moet die grond wat aan hulle behoort terugvat sonder dat hulle daarvoor hoef te betaal.
"Die gewillige koper- en verkoper-benadering van die regering is nie 'n opsie nie. Die opsie wat die jeugliga voorstel is dat ons die land vat sonder om daarvoor te betaal. Dit is ons voorstel," het Malema tydens die jeugliga se provinsiale kongres by die Universiteit van die Wes-Kaap gesê.
Dit is die soveelste keer wat Malema kritiek oor die regering se grondhervormingsbeleid lewer.
Die jeugliga-leier het bygevoeg dat hoewel swartes die apartheidsregering vergewe het, hy nie verstaan hoekom hulle moet betaal vir dit wat eintlik aan hulle behoort nie.
"Hulle het nooit die land gekoop nie, hulle het dit gesteel. En hulle het dit nie net gesteel nie, maar ook slawe van die eienaars gemaak..nou moet ons daarvoor betaal met hierdie gewillige koper, -verkoper beleid...."
Malema het op die vooraand van die jeugliga se 24ste nasionale kongres wat Donderdag in Midrand afskop gepraat, waar verwag word dat die nasionalisering van myne en grondhervorming die twee groot besprekingspunte sal wees.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA