Regering sluit omstrede myn
2010-08-11 09:00
Beeld
Johannesburg - Die omstrede Vele-steenkoolmyn is toe.
Coal of Africa (CoAL) het dié omstrede myn op die voorstoep van Mapungubwe in Limpopo Saterdag op aandrang van die departemente van waterwese en omgewingsake gesluit.
Dit het gebeur onder meer weens druk die afgelope 16 maande deur omgewingsorganisasies, die burgerlike gemeenskap, die media en akademici wat hul stemme dik gemaak het oor dié ongeoorloofde, onwettige oopgroefmyn, ’n klipgooi van Mapungubwe, ’n wêrelderfenisgebied, af.
Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het Dinsdag gesê die direkteurs van CoAL, ’n Australiese myngroep met Suid-Afrikaanse swart ekonomiese bemagtigingsvennote (SEB), kan ’n boete van tot R5 miljoen opgelê word en tot tien jaar tronkstraf kry omdat hy omgewingswetgewing, waaronder die Waterwet, verontagsaam het.
Die departement het reeds met stappe begin om die direkteurs strafregtelik te laat vervolg.
Modise het bevestig die Groen Skerpioene het CoAL die naweek beveel om Vele te sluit omdat dié myn onder meer ’n inheemse woud sonder toestemming platgestoot het.
CoAL het ook sonder ’n waterlisensie boorgate in die Limpoporivier gesink.
Riaan van der Merwe, bedryfshoof van CoAL, het tot verlede week volgehou die myngroep tree in oorstemming met die wet op omdat hy toestemming van die departement van mynbou gekry het om voorbereidingswerk vir sy Vele-steenkoolmyn te doen.
Sonnyboy Bapela, waarnemende adjunk-direkteur van omgewingsake en ’n omgewingsinspekteur (Groen Skerpioen), sê in die bevel wat hy aan CoAL oorhandig het al het ’n myn ’n mynlisensie, móét hy omgewingsgoedkeuring vir sekere bedrywighede kry.
Luidens die bevel moet CoAL vandeesweek nog ’n goedgekeurde omgewingspesialis aanstel wat ’n rehabilitasieplan vir die omgewing moet opstel.
Dit moet binne ’n maand aan die departement van omgewingsake voorgelê word.
Van der Merwe het Beeld by navraag na ’n verklaring op CoAL se webwerf verwys.
Daarin kondig die mynhuis aan dat hy Dinsdag dringende samesprekings met Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, sou voer om “breedvoerig” oor elke “knelpunt” met haar te praat.
Luidens die bevel moes CoAL ook binne 24 uur alle voertuie van sy mynterrein laat verwyder.
Beeld verneem die kontrakteurs het die gebied reeds verlaat.
CoAL is ook beveel om binne 24 uur alle waterpype te verwyder wat hy na die boorgate in die Limpoporivier aangelê het.
Brandstofopgaartenks moet binne 48 uur leeggetap en verwyder word.
Dit is die eerste keer sedert die Waterwet (1998) en die Nasionale Omgewingsbestuurswet (1998) in werking gestel is dat ’n onwettige myn gedwing word om sy deure te sluit.
CoAL, wat reeds in September verlede jaar vir onder meer die steenkoolreus ArcelorMittal se aanleg in Vanderbijlpark wou begin steenkool ontgin, het vroeg in dié maand - voordat die departement van mynbou hom ’n lisensie gegee het - begin bome platstoot.
CoAL het in April ’n mynlisensie van die departement van mynbou gekry en onmiddellik daarna met uitgrawings begin, asook met die bou van ’n aanloopbaan.
’n Konsortium van omgewingsorganisasies het CoAL verlede week in kennis gestel dat hulle die hooggeregshof gaan nader om hom te dwing om sy bedrywighede te staak.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het Vele se sluiting verwelkom.
“As die minister (Sonjica) Vele kan sluit, kan sy seker die 125 ander myne wat presies dieselfde oortredings as CoAL begaan, ook sluit,” het Pretorius gesê.
Modise het gesê as CoAL nie die bevel gehoorsaam nie, sal die departement die hooggeregshof nader om ’n hofbevel teen die myn te kry.
Net Sonjica kan CoAL tegemoetkom, het Modise gesê.
Die uitkoms van die vergadering tussen CoAL en Sonjica was teen druktyd nog nie bekend nie.