'’n Derde vliegtuig het Zuma gevolg’
2012-01-21 06:43
Pretoria – ’n Derde vliegtuig is glo teen miljoene rand gehuur om ter ondersteuning saam met pres. Jacob Zuma se amptelike vliegtuig verlede week na New York te vlieg.
Dié bewering is Vrydag deur David Maynier, die DA se woordvoerder oor verdediging, gemaak.
Die feit dat ’n tweede vliegtuig ter ondersteuning gehuur is, is Vrydagmiddag deur lt.genl. Carlo Gagiano, lugmaghoof, erken. Hy was Vrydagaand in ’n vergadering en kon nie bereik word vir kommentaar op die bewerings van ’n derde vliegtuig nie.
Dié derde vliegtuig, ’n Airbus A340-211 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Inkwazi (die amptelike vliegtuig) die oggend van 9 Januarie uit Suid-Afrika gevolg tot op die Gran Canaria-lughawe op Las Palmas op die Kanariese Eilande.
Die Airbus, sowel as Inkwazi, is daar op 10 Januarie deur die webwerf van vliegtuigsoekers (plane spotters) afgeneem.
Die Airbus het op Las Palmas gewag totdat Inkwazi die halfpadmerk tussen dié eiland en New York oorgesteek het, voordat dit na Suid-Afrika teruggevlieg het. Dié vliegtuig het vroeg die oggend van 11 Januarie in Johannesburg geland.
’n Bombardier Global Express XRS wat die hele pad New York toe en terug gevlieg het, is vermoedelik die skadu-vliegtuig waarna Gagiano verwys het. Dié vliegtuig het later die week saam met Zuma na Suid-Afrika teruggevlieg.
Zuma het ’n vergadering van die Verenigde Nasies in New York bygewoon.
Maynier het gesê volgens sy berekenings moes dié uitstappie die belastingbetaler meer as R10 miljoen uit die sak gejaag het.
Hy het geëis dat Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, nou na vore moet kom met ál die feite oor die vlugte.
- Die Burger