'eThekwini-metro kan in duie stort' – DA
2012-01-22 11:07
Kaapstad – Die DA in KwaZulu-Natal het gewaarsku dat die ANC-beheerde eThekwini-metro in duie kan stort as gevolg van korrupsie en ondoeltreffendheid.
In die jongste verslag van die ouditeur-generaal word onthul dat miljoene rand se munisipale tenders aan raadslede, werknemers en hul gesinne toegeken is, het RSG berig.
Volgens die verslag is tenders ter waarde van meer as R40 miljoen onregmatig toegeken.
Dianne Kohler Barnard van die DA sê die probleem is heelwat groter as wat die party ooit kon voorsien het.
Sy sê dié korrupsie te same met die feit dat staatsdepartemente die eThekwini-metro bykans R600 miljoen skuld is 'n bewys dat die metro op die rand van 'n ineenstorting is.
Die ANC in die provinsie het intussen die verslag van die ouditeur-generaal geloof en sê hulle sal die aanbevelings nakom, het die radiostasie Sondag berig.
Die party se provinsiale sekretaris, Sihle Zikalala. sê die totstandkoming van 'n etiese komitee sal baie help om integriteit en goeie regering aan te moedig.
Volg Nuus24 op Twitter