Zuma wil 'tragiese' voorval laat ondersoek
2012-08-17 19:20
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het op ‘n mediakonferensie in Marikana in die Noordwes gesê hy gaan ‘n kommissie van ondersoek aanstel om die dodelike voorval by die Lonmin-myn te ondersoek.
Hy het Vrydagaand gesê die “lewensverlies is tragies en betreurenswaardig.”
Die president het gesê hy het sy besoek aan Maputo, Mosambiek, kortgeknip “om met die mense in die Noordwes, die mynwerkers, die familielede van die oorledenes en die polisie in dié uur van rou te wees.”
Altesaam 34 mynwerkers het gesterf toe die polisie Donderdagmiddag met skerp ammunisie op stakende werkers geskiet het.
Riah Phiyega, die nasionale polisiehoof, het vroeër op ander ‘n mediakonferensie die sterftesyfer bevestig. Meer as 78 mense is ook in die voorval beseer, het sy gesê.
Altesaam 259 mense is in hegtenis geneem vir aanklagte van onder andere openbare geweld, moord, poging tot moord, die besit van gevaarlike wapens en opsetlike saakbeskadiging.
“Hierdie is nie tonele wat ons in ‘n demokrasie wil sien nie,” het die president gesê.
“Ons verwag nie sulke voorvalle nie.”
Zuma het bygevoeg dat vandag nie oor vingerwys gaan nie, maar eerder om die pyn wat die oorledenes se naasbestaandes moet verduur, met hulle te deel.
Die president meen daar is “iets ernstig agter” die skietery en dat dit “onaanvaarbaar” in ons land is.
“Ek het besluit om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel sodat ons kan vasstel wat gebeur het,” het Zuma gesê. Hy het gesê die raad sal binnekort aangekondig word.
Nog tien mense het die afgelope week in die gewelddadige betogings by die myn gesterf.
Sapa berig die betogings het vermoedelik te make met mededingendheid tussen die National Union of Mineworkers (Num) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) oor erkenningsooreenkomste by die myn. Die werkers wou ook meer betaal word.
Die nuusagentskap het vroeër berig Julius Malema, geskorste leier van die ANC se jeugliga (ANCYL), sal Saterdag na verwagting die stakende mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn toespreek.
eNews het die mediakonferensie regstreeks uitgesaai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24