'Zuma wil self pas aangee in wapenondersoek'
2011-09-24 08:06
Liesl PeyperKaapstad - Pres. Jacob Zuma se voorgenome kommissie van ondersoek na die wapentransaksie sal bes moontlik op niks uitloop nie. Só het mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, gister gesê. Mbeki was die genooide spreker by die Cape Town Club en het oor die toekoms van Suid-Afrika onder bewind van die ANC-regering uitgewei. Op ’n vraag uit die gehoor of die beoogde wapenondersoek iets sal oplewer, het Mbeki gesê hy twyfel. “Pres. Zuma het op die ko
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma se voorgenome kommissie van ondersoek na die wapentransaksie sal bes moontlik op niks uitloop nie.
Só het Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, Vrydag gesê.
Mbeki was die genooide spreker by die Cape Town Club en het oor die toekoms van Suid-Afrika onder bewind van die ANC-regering uitgewei.
Op ’n vraag uit die gehoor of die beoogde wapenondersoek iets sal oplewer, het Mbeki gesê hy twyfel.
“Pres. Zuma het op die kommissie besluit sodat hy self die omvang van die ondersoek kan bepaal, pleks van dat die konstitusionele hof dit vasstel.
“Ek vermoed hoofregter Mogoeng Mogoeng sal die ondersoek lei,” het hy geskerts.
Zuma het verlede Donderdag aangekondig dat die omstrede wapentransaksie ondersoek sal word – op dieselfde dag dat die ANC-regering aan die konstitusionele hof sou moes verduidelik waarom die transaksie nié ondersoek moet word nie. Kritici en ontleders meen dit is betekenisvol dat die regering tot op die laaste gewag het met dié aankondiging sodat dit nie nodig sou wees om aan die hoogste hof verantwoording te doen nie.
Die lede van die ondersoekspan is nog nie aangekondig nie.
Mbeki het hom ook uitgelaat teen die feit dat Julius Malema, ANC-jeugleier, voor ’n tugkomitee gedaag is oor die jeugliga se planne om weerstand teen die bewind van pres. Ian Khama van Botswana te organiseer.
“Ek dink mnr. Malema het verkeerd verstaan,” het Mbeki gesê. Volgens hom het opposisiepartye in Botswana die ANC-jeugliga genader vir advies oor hoe om “’n verenigde front in Botswana” te wees.
“Maar mnr. Malema en die jeugliga het dit verkeerdelik vertolk dat hulle gevra word om teen die Botswana-regering te organiseer.”
Mbeki is ook gevra om kommentaar te lewer oor die voorgenome inligtingswet wat vroeër vandeesweek op aandrang van die ANC se nasionale uitvoerende komitee teruggetrek is.
“Die regering probeer om met behulp van dié wet die media se mond te snoer oor korrupsie en ander geheime in sy geledere, maar dis ’n vergeefse poging,” het Mbeki gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger