Zuma wil nie kommentaar lewer oor Maharaj nie
2011-11-21 18:58
Johannesburg – President Jacob Zuma sê dit sal verkeerd wees vir hom om kommentaar te lewer oor die kontroversiële kwessie waarin sy woordvoerder, Mac Maharaj, betrokke is, het SAFM Maandag berig.
“Mnr. Maharaj hanteer die kwessie op ‘n regsvlak, so ek dink nie ek is nie bevoeg om daaroor kommentaar te lewer nie,” het Zuma tydens ‘n sake-ontbyt, wat deur The New Age-koerant aangebied is, gesê.
“Ek dink dit sal onvanpas wees terwyl die saak op daardie vlak hanteer word as ek dan kom en sê ‘dit is wat ek wil doen’.”
Hy het ‘n ondersoek in die wapentransaksie geloods en alle vrae moet daar gerig word.
Maharaj is Sondag in die Sunday Times daarvan beskuldig dat hy en sy vrou, Zarina, tussen 1997 en 1999 omkoopgeld van sowat R2,3 miljoen van ’n Franse wapenvervaardiger, Thales, ontvang het.
Maharaj was toe minister van vervoer.
Die Mail & Guardian is gedwing om gedeeltes van 'n ondersoekende berig uit te sny nadat hy deur Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, se prokureurs met kriminele vervolging gedreig is.
Dié berig sou in verlede Vrydag se uitgawe verskyn.
Nic Dawes, redakteur van Mail & Guardian, het gesê die koerant sou inligting van 'n onderhoud van ingevolge artikel 28 van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag met Maharaj gevoer is, publiseer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA