Zuma wil hárd teen Juju en Kie. optree
2011-08-21 07:07
Cedric Mboyisa en Sabelo Mdlangisa
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma wil toesien dat daar hardhandig met Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, afgereken word oor onder meer sy pogings om die party te verdeel en rasseverdeling in die land aan te blaas.
“Hoekom staan julle in opposisie tot die ANC?” wou ’n woedende Zuma glo verlede week weet toe jeugligaleiers uit ’n vergadering in die ANC-hoofkantoor, Luthuli-huis, gestorm het.
Malema en Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, is Vrydag aangekla, terwyl nog drie van die liga se hoofleiers Maandag aangekla sal word.
Die klagte hou verband met hul pogings om verdeeldheid in die ANC te saai, dat hulle die ANC se beeld skaad, dat hulle rasseverhoudings versleg en wat betref Shivambu, dat hy joernaliste vloek.
Volgens inligting van City Press, Rapport se susterkoerant, word Malema ook daarvan aangekla dat hy rassisme aanblaas op grond van stellings wat hy in Mei in Kimberley gemaak het.
“Ons moet die grond vat sonder betaling. Hulle het ons grond gevat sonder betaling…
“Hulle is misdadigers en moet só behandel word,” het Malema gesê.
Die ernstigste aanklagte teen die jeugliga se leiers hou verband met hul stellings in Julie oor ’n regimeverandering in Botswana.
Die ANC-leierskorps meen die stellings het die ANC se naam internasionaal geskaad en verhoudinge met ’n buurland vertroebel.
In sy tugverhoor verlede jaar is Malema daaraan skuldig bevind dat hy die ANC se grondwet oortree het deur eenheid in die party te ondermyn.
Hy is toe gewaarsku dat hy summier geskors kan word as hy hom binne twee jaar aan ’n soortgelyke oortreding skuldig maak.
“As Juju skuldig bevind en geskors word, kan hy hom in die politieke duisternis bevind,” is uit Luthuli-huis gesê.
Maar soos Zuma is Malema ’n politieke kanniedood en dit is dalk nog te vroeg om sy politieke grafskrif te skryf, is gesê.
* Die ANC rol van sy groot kanonne uit om die tugverhore te hanteer.
Die voorsitter is die ANC-veteraan Derek Hanekom.
Hy word bygestaan deur onder andere Susan Shabangu, minister van minerale bronne, en Collins Chabane, minister in die presidensie.
Die appèlkomitee sal gelei word deur die ANC-veteraan Cyril Ramaphosa, wat bygestaan sal word deur onder andere Trevor Manuel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport