Zuma wag op Shiceka se repliek
2011-04-17 20:45
Johannesburg - President Jacob Zuma wag op ‘n repliek van Sicelo Shiceka, minister vir samewerkende regering en tradisionele sake, op aantygings dat hy publieke fondse misbruik het, het die presidensie Sondag gesê.
“Ons beklemtoon... dat minister Shiceka onskuldig is van dié aantygings, tensy daar anders bewys kan word,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die presidensie, in ‘n verklaring gesê.
Die Sunday Times het berig Shiceka is besig om ‘n nuwe huis in sy tuisdorp, Ingquza Hill in die Oos-Kaap, te bou.
Ingquza Hill is een van die armste gebiede in dié provinsie. Gemeenskapslede het verlede week betoog teen swak dienslewering in die gebied.
Die Sunday Times se berig het vasgestel dat:
- Munisipale vragmotors gebruik word om water na die bouperseel van die nuwe huis te vervoer, terwyl geen water aan die grootste deel van die gemeenskap gelewer word nie.
- ‘n Teerpad van R32 miljoen gebou word wat voor Shiceka se huis verby sal loop, terwyl duisende inwoners in die gebied nie grondpaaie het om op te reis nie.
- Shiceka se huis sal onder die eerstes tel wat elektrisiteit ontvang.
Shiceka het verlede week die eerste minister sedert 1994 geword wat deur die parlement se etiese komitee ondersoek word.
Die openbare beskermer is gevra om sy uitgawes van R335 000 op ‘n reistog na Switserland om vir sy meisie in die tronk te kuier, R640 000 in een jaar om by die One & Only-hotel te bly en R160 000 in agt maande om sy uitgebreide familie kruis en dwars deur die land te laat vlieg, te ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA