Zuma waarsku oor dissipline in die ANC
2012-01-21 23:00
Johannesburg – President Jacob Zuma het sy teenstanders gewaarsku dat hulle geen toekoms in die ANC sal hê as hulle ongedissiplineerd is nie, het berigte gesê.
Zuma het Saterdag by die provinsiale ANC-eeufeesvieringe in Oos-Londen gepraat.
Hy het ook “die wat verkeerde optredes verdedig” berispe, het die Sunday Times berig.
“Ons moet ‘n punt bereik waar dissipline uitgeoefen word, ongeag van die posisie waarin jy is. Hierdie ding moet end kry waar, as een kameraad dinge verkeerd doen, ander kamerade hom verdedig,” het Zuma gesê.
Die opmerkings kom ‘n week nadat die ANC se tesourier Mathews Phosa tydens ‘n veldtog in Sekhukhune oor kwessies in die ANC-jeuglige gepraat het.
Hy het gesê die ANC is “nie ‘n asblik vir kamerade nie”.
Volgens die berig het Zuma gesê dat dissipline sentraal is tot die party se groei.
“Kom ons vernietig nie hierdie organisasie van (Johan) Dube, (Oliver) Tambo en (Nelson) Mandela nie. Julle kan nie groter as hulle wees nie.”
Hy het gewaarsku dat diegene wat nie die ANC verstaan nie hulself vinnig buite die ANC sal vind, het die Sunday Times berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA