Zuma-vroue se voordele R15,5 miljoen werd
2010-03-17 03:03
Kaapstad - Die begroting vir pres. Jacob Zuma se vroue se staatsvoordele het verlede jaar byna verdubbel en staan nou op R15,517,500 vir 2010.
Dít was in Collins Chabane, minister in die presidensie, se reaksie op 'n parlementêre vraag deur die DA onthul.
In die 2008/09 finansiële jaar toe Kgalema Motlanthe vir Thabo Mbeki as president opgevolg het, was dié voordele R8,076,709.
Die voordele dek die koste om 'n persoonlike sekretaresse en 'n navorser aan te stel om die president se vroue in projekte wat verband hou met werk van die regering te help.
Zuma se eerste vrou, Sizakele Zuma, is betrokke by projekte in landbou, sy tweede vrou Nompumelelo Zuma help weeskinders en kwesbare kinders en Thobeka Madiba is betrokke by gemeenskapsgesondheid.
Die presidensie betaal ook vir skootrekenaars en selfone vir die president se vroue en hul personeel en hulle kry 'n spesiale toelaag vir uitgawes tydens amptelike besoeke.
Chabane het bevestig dat die presidensie koste en voordele dek wat verband hou met die president se kinders of hulle binne of buite die huwelik gebore is of nie.
– Sapa