Zuma vra vir eenheid in drieparty-alliansie
2012-05-01 17:54
Botshabelo – Daar moet eenheid wees in die drieparty-alliansie, het pres. Jacob Zuma Dinsdag by 'n Werkersdag-byeenkoms in die Vrystaat gesê.
Zuma, wat 'n kleinerige gehoor by die Botshabelo-stadion toegespreek het, het gesê daar moet eenheid wees by die individuele vennote self, wat weer in die drieparty-alliansie gestalte moet vind.
Hy het gesê dis nodig dat die alliansie Suid-Afrika lei.
"Ons het 'n enorme taak vir die alliansie. Daar is diegene wat teen ons werk sodat ons nie suksesvol kan wees nie."
Zuma het ook die onderskeie leiers van die alliansie gevra om duidelik te kommunikeer oor omstrede sake sodat daar nie onsekerheid onder hulle lede is nie.
Hy het ook gesê politieke regte en arbeiders se regte het nog altyd nou met mekaar verband gehou in Suid-Afrika. Hy het ook gesê die land kan nie die "Mei-dag"-viering van die ANC se vryheidsvierings skei nie.
Ace Magashule, voorsitter van die ANC in die Vrystaat, het die president vroeër aan die gehoor voorgestel as een van die grootste leiers van Suid-Afrika.
Magashule het gesê Zuma is nie 'n leier wat deur die media geskep is nie, maar dat hy gebore is uit die struggle.
"Hy sal môre steeds president wees, nie as gevolg van die media nie, maar as gevolg van die mense van Suid-Afrika en die takke van die ANC."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA