Zuma-verslag 'niks met enigiemand te doen' – ANC
2012-12-07 18:01
Johannesburg – Die ANC het Vrydag geweier om kommentaar te lewer op 'n berig in die Mail & Guardian wat beweer dat pres. Jacob Zuma van verskeie mense, insluitend oudpres. Nelson Mandela, geld ontvang het om sy skuld en uitgawes te dek.
Die koerant het berig oor 'n verslag van die ouditeursfirma KPMG, wat verwys het na Zuma se "roekelose" lewenstyl en finansiële besluite.
"Ons kan nie as 'n organisasie kommentaar lewer op 'n private saak nie. Dit het niks met enigiemand te doen nie," het Keith Khoza, 'n woordvoerder, gesê.
Die party sal ook nie die verslag met Zuma bespreek nie, omdat dit 'n private aangeleentheid is.
"Ons kan nie reageer op onverantwoordelike verslaggewing deur die Mail & Guardian nie; hierdie het niks te doen met openbare diens en die amp van die president nie."
Die Jong Kommunisteliga van Suid-Afrika (YCLSA) het gesê die berig is "herverpakte" skinderstories, en is daarop gemik om Zuma se reputasie te skaad voor die party se verkiesingskongres in Mangaung.
"Hierdie storie gaan oor niks [behalwe] Mangaung nie, en neem ons vyf jaar terug, toe die media gebruik is om afgevaardigdes te oorreed om nie voort te gaan om Jacob Zuma as president te verkies nie," het Mawethu Rune, ondervoorsitter van die YCLSA, gesê.
Die DA het op sy beurt gesê Zuma moet verlof neem tot die saak uitgeklaar is.
"Die volle verhaal sal later uitkom, maar tot dan moet pres. Zuma verlof neem van sy amp tot hierdie bewerings bewys of verkeerd bewys is," het James Selfe, 'n DA-LP, gesê.
‘n Ouditeursverslag wat Vrydag deur Mail & Guardian gepubliseer is, het onthul hoe verskeie weldoeners meer as R7 miljoen aan pres. Zuma betaal het om sy uitgawes te dek.
Die koerant het die hoof-bevindings van dié forensiese verslag, wat KPMG in 2006 vir Zuma se verhoor voorberei het, gepubliseer. Die verslag is byna 500 bladsye lank.
Die verslag ontbloot dat die president dikwels geld aanvaar het. Dit sluit in 'n tjek van oudpres. Nelson Mandela op 23 Junie, 2005, ter waarde van R1 miljoen. Zuma se bankrekenings was luidens die verslag in dié stadium met meer as R400 000 oortrokke.
Die verslag beskryf ook hoe betalings deur Schabir Shaik voortgegaan het lank ná die saak teen dié omstrede sakeman in 2004 begin het.
Altesaam 783 betalings van Shaik of sy Nkobi-groep aan Zuma is geïdentifiseer. Die betalings beloop R4 072 500 – aansienlik meer as die bedrag van R1,25 miljoen wat ten tye van Shaik se saak genoem is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA