Zuma vergader met Libiese gesant
2012-01-03 23:10
Pretoria – Pres. Jacob Zuma het Dinsdag met 'n gesant van Libië se Nasionale Oorgangsraad (NOR) vergader wat Suid-Afrika genader het vir hulp om dié Noord-Afrika-land te herbou ná die opstande wat 'n einde aan die regime van Muammar Gaddafi gebring het.
Die presidensie het in 'n verklaring gesê die gesant, Yousif Ibrahim Sherif, het 'n boodskap van die NOR se voorsitter, Mustafa Abdul Jalil, oorgedra wat "Suid-Afrika vir hulp vra met die herbou en ontwikkeling van Libië in die lig van Suid-Afrika se ervaring in vredesonderhandelings en demokrasie".
"Die vergadering het die behoefte bevestig vir die versterking van politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande, en die behoefte om te werk onder die vaandel van die Afrika-unie om probleme in Libië die hoof te bied," het die verklaring gelui.
Zuma het ook 'n uitnodiging om Libië te besoek, aanvaar, hoewel geen datum vir dié besoek al bevestig is nie.
Zuma het vroeër die Navo-veldtog wat rebelle gehelp het om Gaddafi se regime omver te werp, gekritiseer en gesê dié konflik het 'n "litteken veroorsaak wat.. baie jare sal neem om te herstel".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA