Zuma vererg hom toe LP’s hom met vrae peper
2011-09-14 08:00
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het Dinsdag vir die eerste keer ooglopend sy humeur in die Nasionale Vergadering verloor toe hy oor die openbare beskermer (OB) se verdoemende bevindings gepeper is.
Opposisie-LP’s het aangedring Zuma moet “nou en hier” verduidelik hoekom hy twee maande ná die OB se laaste verslag steeds nie teen Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, opgetree het nie.
Die OB, adv. Thuli Madonsela, het op 14 Julie vir die tweede keer bevind Mahlangu-Nkabinde en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het onwettig en onregmatig opgetree met die verkryging van twee onwettige huurooreenkomste ter waarde van R1,8 miljard vir polisiekantore in Pretoria en Durban.
Madonsela het beslis Mahlangu-Nkabinde moet haar optrede binne 60 dae aan die kabinet verduidelik.
Die minister het die OB se spertyd, wat Maandag verstryk het, egter verontagsaam.
Zuma, sigbaar onthuts, het ná ’n skreeusessie tussen opposisie- en ANC-LP’s volstrek geweier om te sê of hy enige stappe gaan doen.
“Ek kan nie verstaan hoekom ek daarop moet antwoord nie,” het hy hard gesê en sy vinger in die lug gedruk.
Hy het me. Marti Wenger (DA) se opvolgvraag gesystap, omdat dit nie verband gehou het met “plaaslike regering” nie – die kwessie wat in daardie stadium ter sake was.
Mahlangu-Nkabinde, uitgevat in ’n pers snyerspakkie, het die petalje uitdrukkingloos vanuit die ANC-banke in die parlement aanskou.
Die sitting het vroeër in chaos ontaard toe Max Sisulu, speaker, geweier het dat Zuma op die vrae antwoord, omdat die OB se bevindings “net bewerings is” en geen hof Mahlangu-Nkabinde skuldig bevind het nie.
Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het volgehou Madonsela se bevindings is geldig. “As ons nie op die OB se bevindings kan staatmaak nie, wat is die nut daarvan?”
Ian Davidson, DA-hoofsweep, het Sisulu daarvan beskuldig dat hy Zuma beskerm.
Ook Juli Kilian (Cope) het ingeklim en geëis “ons verwag van die president om nou en hier aan dié Huis rekenskap te gee!”
Zuma het daarna vir ’n tweede keer deurgeloop toe hy gesê het mnr. Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering, wat sedert Februarie op siekteverlof is, was in 2008 op besoek aan Switserland ter voorbereiding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Zuma het ’n verduideliking van Shiceka geëis oor bewerings dat hy daar by ’n vriendin in ’n tronk gekuier het.
“Ek kan nie optree (teen Shiceka) voordat die OB-ondersoek afgehandel is nie. Ek moet vir die verslag wag,” het Zuma volgehou terwyl die opposisie hom openlik uitgelag het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger