Zuma ‘verbyster’ oor media-kritiek
2010-08-14 07:57
Kaapstad. – Pres. Jacob Zuma het in sy toetrede tot die debat oor die ANC se beoogde mediatribunaal kaalvuis onder kritici ingeklim en hul vrese dat dié party mediavryheid wil inperk, as “histeries” en “misleidend” afgemaak.
Zuma het in die ANC se aanlynnuusbrief, ANC Today, geskryf hy is “verbyster” oor die kommentaar dat die tribunaal ’n poging is om die media te beheer en plat te vee.
Duisende afgevaardigdes sal die voorstel vir ’n mediatribunaal volgende maand by die ANC se hoofraadsvergadering in Durban bespreek.
Talle belangegroepe binne en buite die media het sedert die ANC sy besprekingsdokumente uitgereik het, skerp teenkanting uitgespreek.
Zuma het dié belangegroepe se kritiek prontuit as “misleidend” beskryf en gesê dit het ’n nodige en konstruktiewe debat “besoedel”.
Volgens hom is dit die ANC se plig om die media te “demokratiseer” en wil die party verhinder dat menseregte vertrap word.
“Die tribunaal is veronderstel om alle Suid-Afrikaners – ryk óf arm, swart óf wit, op die platteland óf in die stede – te beskerm.”
Hy het veral aanstoot geneem dat die ANC met die apartheidsregering vergelyk word.
“Dit is nie net belaglik en agterbaks nie, maar ook ’n ondraaglike belediging.”
Dat die ANC die tribunaal wil gebruik om korrupsie toe te smeer, is “vals”.
Dit is ook nie “persoonlik” nie.
Zuma het herhaaldelik gesê die ANC hou geen bedreiging vir die media in nie, maar terselfdertyd aangevoer dat spraakvryheid nie verhewe is bo die reg op privaatheid en menswaardigheid nie.
Hy het voorts daarop gesinspeel die media is “vervreem” van die huidige bedeling en van Suid-Afrikaners in die algemeen.
Hy het spesifiek na WB 2010 verwys om sy argument te staaf dat die nuusdraers “van wanhoop en onheil” uit voeling is met ’n nasie “verenig in diversiteit”.
“Verstaan hierdie instelling (die gedrukte media) werklik Suid-Afrikaners?
Waarom was die media verras deur die ontploffing van nasionale trots gedurende die toernooi?
Waarom het hulle uitgestyg bo die daaglikse dieet van negatiwiteit en moedeloosheid wat hulle gevoer word?”
Volgens Zuma moet daar gevra word of die media en die regering “op dieselfde golflengte is” rakende die politieke, maatskaplike en ekonomiese roete wat die land moet inslaan.
Dié antwoord sal volgens hom bepaal of die media die vermoë het om die regering se prestasie “akkuraat te beoordeel”.
Hy het sarkasties na die media verwys as ’n instelling wat hom tot “die bewakers van die samelewing verhef het”.
Intussen is dit hoog tyd vir selfondersoek, “want dié instelling kan nie aanvoer dat hy vlekkeloos of sonder fout is nie”.
Nes die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) tans die uitsaaimedia reguleer, net so is dit nodig om die gedrukte media te reguleer, “want dié instelling is nie bo die Grondwet verhewe nie”, het Zuma geskryf.
Hy het die resolusie wat by die nasionale konferensie in 2007 by Polokwane aanvaar is, aangehaal om te demonstreer wat ’n mediatribunaal ten doel het:
- dit sal selfregulering van die gedrukte media “in openbare belang” versterk;
- dit is ’n inisiatief om ’n kultuur van menseregte te vestig en te versterk.
Die parlement “met sy verkose verteenwoordigers” sal verseker die tribunaal se werk is “deursigtig en regverdig”.
- Beeld