Zuma verander glo van deuntjie oor Malema
2010-04-20 07:03
Johannesburg – Die ANC sal na bewering alle aanklagte teen die omstrede president van die ANC-jeugliga (ANCYL), Julius Malema, laat vaar.
Dit kom nadat president Jacob Zuma onverwags van mening verander het, het Times Live berig.
Volgens ‘n interne bron van die regerende party het Zuma en ander top ANC-leiers besluit om die aanklagte teen Malema terug te trek ná afloop van ‘n vergadering met die jeugliga Maandag.
Hierdie kontroversiële verwikkelinge sal na bewering Dinsdag tydens ‘n perskonferensie bekend gemaak word.
Die ANC wou nie kommentaar lewer oor die nuutste bewerings nie, maar verskeie bronne na aan die jeugliga het bevestig dat Malema nie vervolg sal word nie.
Daar is Maandag nog berig dat Malema moontlike skorsing in die gesig staar weens sy swak dissipline.
Die klagte teen Malema spruit daaruit dat hy die party in oneer gebring het deur swak dissipline, hy aangehou het om vryheidsliedjies te sing en sy gedrag teenoor en behandeling van ’n BBC-joernalis.
Lees meer hier.