Zuma van haatspraak aangekla
2012-02-24 22:54
Johannesburg – Die Menseregtekommissie (MRK) in Johannesburg het bevestig dat die regse beweging die Gelofte Volk 'n amptelike klag van haatspraak teen pres. Jacob Zuma ingedien het.
Die groep beweer Zuma het die struggle-lied met die woorde "skiet die boer" vroeër vanjaar tydens die ANC se eeufeesvieringe in Bloemfontein gesing.
Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga, is verlede jaar deur die gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind vir die sing van dieselfde liedjie.
Sapa berig André Visagie, leier van die Gelofte Volk, sê hy het die klag “namens die boerenasie” ingedien.
Visagie sê die groep erken Zuma nie as president nie, het RSG berig.
Volg Nuus24 op Twitter