Zuma stil oor omstrede kwessies
2010-02-12 05:24
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma se staatsrede Donderdagaand het verskeie omstrede kwessies waarby die president betrokke is, gesystap.
Die president het niks gesê oor die buite-egtelike kind wat hy by Sonono Khoza het nie.
Die president het onlangs opspraak gewek toe hy erken dat hy 'n buite-egtelike baba by Khoza het.
Sonono Khoza is die dogter van Irvin Khoza, voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee van die Wêreldbeker-sokkertoernooi en baas van Pirates-sokkerklub.
Lede van die opposisie het openlik gelag toe Zuma die sokkerbaas sterkte toewens vir die maande wat voorlê voor die sokkertoernooi, wat Suid-Afrika in Junie aanbied.
Helen Zille, DA-leier, het ook haar kritiek uitgespreek omdat die president nie uitgewei het oor die hersiening van die kriminele regstelsel nie.
Veranderinge aan dié stelsel is 'n geruime tyd gelede aangekondig.
Zuma het verder nie die kwessie van nasionalisering, 'n raakpunt onder lede van die ANC-jeugliga, senior lede van die ANC en die SAKP, genoem nie.
- Sapa