Zuma stel nuwe vervolgingshoof aan
2011-12-28 23:10
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het in 'n verklaring aangedui dat hy 'n besluit van vyf appèlregters wat bevind het dat adv. Menzi Simelane uit sy pos as nasionale vervolgingshoof verwyder moet word, sal aanvaar.
Sy keuse vir Simelane se plaasvervanger kan egter die wenkbroue laat lig.
Zuma, wat aangedui het dat hy nie appèl sal aanteken teen die vroeëre uitspraak oor Simelane nie, het hom op spesiale verlof geplaas en Nomgobo Jiba, adjunkdirekteur van openbare vervolging, in sy plek aangestel.
Jiba het vroeër die maand vir 'n kort periode as hoof van die spesiale ondersoekeenheid gedien ná Willem Heath bedank het.
Sy is egter vervang met adv. Nomvula Mokhatla te midde berigte dat minister Jeff Radebe nie Jiba se aanstelling met Zuma bespreek het nie.
Jiba is ook vroeër uit die nasionale vervolgingsgesag geskors nadat sy na bewering inligting verskaf het vir 'n polisie-ondersoek na haar kollega, Gerrie Nel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA