Zuma spreek vertroue uit in Manyi
2011-02-03 19:00
Johannesburg - Pres. Jacob Zuma het Dinsdag sy vertroue in die nuwe kabinetswoordvoerder, Jimmy Manyi, uitgespreek ná Manyi se omstrede aanstelling in dié pos.
Manyi is Woensdag in kennis gestel dat hy as die nuwe kabinetswoordvoerder aangestel is.
"President Zuma het mnr. Manyi verwelkom en hom sterkte toegewens in sy nuwe pos. Hy het ook die vertroue uitgespreek dat hy sy nuwe taak op 'n deeglike en doeltreffende wyse sal aanpak," het 'n mediaverklaring wat deur die presidensie uitgereik is, gelui.
Manyi, bekend vir sy radikale standpunte oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, is in Junie 2010 as direkteur-generaal van arbeid geskors weens sy optrede tydens 'n vergadering met die Noorse ambassadeur, Tor Christian-Hildan.
Manyi het glo aangebied om Noorse beleggers in swartbemagtigingstransaksies te "help".
President Zuma het ook die geleentheid gebruik om afskeid te neem van die voormalige kabinetswoordvoerder, Themba Maseko, wat herontplooi is in die departement van openbare dienste en administrasie.
"Themba Maseko se doeltreffendheid sowel as sy vriendelike en nederige persoonlikheid het hom in staat gestel om sy verhouding met die media te bou, en hy het daarin geslaag om die verhouding tussen die regering en die media te verstewig,'' het die verklaring gelui.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA