Zuma spreek sy seën uit oor Orania
2010-09-15 06:45
Orania - Oraniërs het pres. Jacob Zuma se seën op hul dorp gevra en dit Dinsdag gekry.
Hy het na afloop van ’n besoek van langer as twee uur gesê Orania “is deel van ons, en ons is deel van hulle”.
Die besoek, op versoek van Zuma, volg op jare lange en volgehoue kontak tussen die staatshoof en die leiers van die Orania-beweging. Zuma het die afgelope naweek eers laat weet dat hy tyd in sy skedule het en het ’n private vergadering met prof. Carel Boshoff (83), een van die dorp se grondleggers, aangevra.
Volgens Carel Boshoff IV, Orania se burgemeester, het Boshoff sr. tydens hul gesprek gevra dat die dorp se status – dit is nie as ’n munisipaliteit geregistreer nie – uitgeklaar word. Hy het gesê Oraniërs is ook belastingbetalers en dit sal tot groot voordeel wees indien dié geld gebruik kan word vir die nypende tekort aan behuising. Die dorpsraad het sy vaardighede en kundigheid ook aan die president gebied om te help met opheffingsprojekte elders in die provinsie.
Zuma het na afloop van ’n blitstoer deur die dorp en omliggende ontwikkelingsprojekte, waartydens Boshoff sr. saam met hom in sy ampsmotor gery het, gesê die plaaslike gemeenskap se benadering is nie-konfronterend.
“Hulle wil met ander gemeenskappe saamwerk sodat almal by mekaar kan leer. Dit skep ruimte vir gesprekvoering om kwessies verder te bespreek.
“My indruk van Orania is verskillend van dit wat dikwels geskep word, dié van ’n gemeenskap wat êrens ’n republiek wil stig. Ek dink dié is ’n gemeenskap wat binne Suid-Afrika wil leef, maar plek soek om sy kultuur te beoefen. Ek dink dis die basis vir volgehoue kontak.”
Zuma het net voor 09:00 in ’n Oryx-helikopter en vergesel van sy parlementêre raadgewer, Ayanda Dlodlo, langs die Orania-gemeenskapsaal neergestryk. Hy is deur 50 leerders van die Volkskool Orania verwelkom voordat hy aan gemeenskapsleiers voorgestel is. Boshoff sr. is vergesel van dr. Chris Jooste, ’n voormalige hoof van die destydse Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede.
Lida Strydom, redakteur van die Orania-tydskrif, het Zuma gevra om sy seën oor die dorp uit te spreek, iets wat Zuma gedoen het. “Ek het geen probleem om enige gemeenskap in die land te seën nie. In soverre dit oor sommige kwessies soos die (dorps-) filosofie gaan – dis kwessies waaroor ons aanhoudend gaan praat. Dié gemeenskap is ons s’n, ons is almal in Suid-Afrika. Só die seëninge is daar, daar is geen probleem nie.”
Boshoff sr. het gesê Oraniërs erken die regering en respekteer die Grondwet en dat hulle hul strewes en doelstellings binne daardie raamwerk nastreef.
- Die Burger