Zuma soek konkrete bewyse oor Malema
2010-03-25 07:28
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma eis eers meer inligting en konkrete bewyse voor die regering enigsins bewerings van tenderbedrog teen Julius Malema, ANC-jeugleier, sal ondersoek.
Zuma het in die Nasionale Vergadering reageer op ’n vraag van Anele Mda, Cope-jeugleier, wat ’n ondersoek en optrede eis oor Malema se kontrakte waaruit hy na bewering miljoene rande bekom het.
Boonop wil Zuma hom nie uitlaat oor prosedures wat deur die regering gevolg kan word om geld terug te eis van maatskappye wat nie aan die vereistes in hul tender-ooreenkomste voldoen nie.
Hy is glad nie ingelig oor die besonderhede rondom die toekenning van tenders aan Malema deur die Limpopo-regering nie en sal nie bloot op grond van media-berigte optree nie. “Ek het nie die besonderhede oor wat met die tenders gebeur het nie en ook nie of die bewerings waar is nie.”
Hy het sy vorige standpunt beklemtoon dat hy sal optree waar daar korrupsie is.
“As daar inligting is, konkrete bewyse oor wat gebeur het, glo ek dit moet aan die regering gegee word.”
Zuma het volgehou dat iemand wat inligting het hulle tot die polisie moet wend en hul saak moet stel.
“As jy wil hê die president moet ’n spesifieke kwessie ondersoek, sê ek voorsien my van die inligting. Wat is so moeilik daaraan?”
Hy het later teruggekrabbel en gesê: “As daar ’n probleem was, is ek seker die Limpopo-regering is reeds besig om dit te hanteer.”
Die interministeriële komitee oor korrupsie kyk ook na maniere om tenderprosesse te verbeter.
“Probleme ontstaan nie uit die regering se beleid met tenders en deursigtigheid nie, maar eerder uit ’n gebrek aan die nakoming van die tender-ooreenkomste.”
Dit volg ná mediaberigte in City Press verlede maand dat SGL-Engineering, wat gedeeltelik deur Malema besit word, meer as R140 miljoen se tenders die laaste twee jaar van die Limpopo-regering bekom het.
Van die brûe en paaie wat deur SGL gebou is, het weggespoel of ineengestort. Malema, wat ook onder druk is oor sy belastingklaringsertifikaat, het dié berigte as leuens beskryf en aangedui dat hy reeds twee jaar gelede bedank het.
- Die Burger