Zuma-skildery 'sadisties' – SAKP
2012-05-20 17:00
Johannesburg – ‘n Skildery van President Jacob Zuma waarin sy penis blootgestel is, is “sadisties”, het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) Sondag gesê.
“Die SAKP is woedend oor die beledigende, disrespekvolle... walglike en sadistiese sogenaamde portret van President Zuma deur Brett Murray,” het Malesela Maleka in ‘n verklaring gesê.
“Die portret is diep aanstootlik en ‘n daad van uitlokking teenoor die oorweldeigende meerderheid van ons mense. Vir ons het Brett Murray eenvoudig die lyn oorsteek.”
Die 1,85 meter hoë skildery, getiteld “The Spear”, is deel van Murray se “Hail to the Thief II”-uitstalling by die Goodman Galery in Johannesburg.
Maleka het gesê die SAKP veroordeel mense wat die portret verdedig onder die banier van vryheid van uitdrukking.
“Vryheid van uitdrukking het nog nooit die vryheid om te beledig en om die waarde van ‘n ander persoon skade te berokken beteken nie,” het hy gesê.
Thamsanqa Mvambo, sekretaris-generaal van die National Interfaith Council of SA, het gesê die portret help nie om die verdelings wat deur die land se verlede meegebring is, te oorbrug nie.
“Die vryheid waarvoor baie van ons mense gely en gesterf het, moet nie misbruik word deur dié wat duidelik haat vir demokraties verkose leiers koester nie,” het hy gesê.
“In ‘n tyd waarin ons probeer om die verdeeldhede van ons gewonde verlede te genees, help sulke beelde nie om sosiale kohesie en nasionale versoening te bou nie. Indien enigiets het die skildery daarin geslaag om die wig tussen Suid-Afrikaners te vergroot.”
Zuma se dogter, Gugu Zuma, het Sondag in ‘n verklaring aan City Press gesê die portret is “vulgêr en het geen teken van menslikheid nie”.
“Ons verstaan wel dat hy [Zuma] ‘n openbare figuur is, maar hierdie is nie meer polities nie en maak eerder inbreuk op sy regte as mens,” het sy gesê.
“Sover dit ons aangaan, in ons samelewing is dit slegs diere wat kaal staan, nie mense nie.”
Zuma se broer, Michael, het aan die Sunday Times gesê die portret is walglik en het niks anders as skande oor die familie gebring nie.
“Dit is die mees walglike ding wat nog ooit gepubliseer of gesê is oor die president,” het hy gesê.
“As ‘n familie is ons steeds geskok, want in ons kultuur is die blootstelling van privade dele iets wat ‘n skande is. Dit word beskou as disrespekvol teenoor daardie persoon en andere.”
Die ANC het Vrydag ‘n dringende hofinterdik aangevra in ‘n poging om die Goodman Galery in Johannesburg en die City Press daarvan te weerhou om die skildery te vertoon.
Die verhoor sal Dinsdag by die Hooggeregshof in Johannesburg plaasvind, het Jackson Mthembu, woordvoerder van die party, gesê.
Die ANC het vroeër aan die galery ‘n prokureursbrief gestuur waarin die verwydering van die skildery geëis word, maar Lara Koseff, woordvoerder van die galery, het gesê hul prokureurs het gesê die skildery sal bly tot die uitstalling klaar is.
Die skildery is Vrydag wyd veroordeel deur, onder meer, Paul Mashatile (Minister van Kuns en Kultuur), die presidensie, Cosatu, die ACDP en Nehawu.
Die Sunday Times het berig die skildery is reeds vir R136 000 aan ‘n Duitse koper verkoop.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA