Zuma-sending 'gedoem tot mislukking'
2011-06-01 09:06
Pretoria - Pres. Jacob Zuma het ná sy vergadering met kol. Muammar Gaddafi van Libië gesê net dialoog tussen al die leiers in dié land kan blywende vrede bring.
Hy het die Afrika-Unie (AU) se rol as bemiddelaar in Libië herbeklemtoon en Navo versoek om die AU se pogings te respekteer eerder as om voort te gaan met sy bombardemente.
Die presidensie het Dinsdag bevestig dat Zuma onlangs verteenwoordigers van die opposisie in Libië se oorgangsraad in Pretoria ontmoet het.
Die opposisie het Dinsdag die AU-plan egter summier verwerp en volgehou dat daar geen vredesonderhandelinge of deelnemende toekomstige bestel in Libië gaan wees terwyl Gaddafi nog aan die bewind is nie.
Die presidensie het Dinsdag in ’n verklaring gesê “daar is kommer oor Gaddafi se persoonlike veiligheid” nadat Zuma op ’n toer deur Tripoli geneem is om die skade deur Navo-bombardemente eerstehands te aanskou.
Zuma het die AU se vredesplan, wat onder meer bepaal dat daar ’n skietstilstand aan albei kante moet wees, wéér aan Gaddafi voorgelê. Met Zuma se vorige besoek het Gaddafi dieselfde plan aanvaar net om met selfs hoër intensiteit die aanvalle op die opposisiemagte te verskerp.
Maandag het Gaddafi volgehou dat hy nie bereid is om sy land te verlaat nie.
Peter Bouckaert van Human Rights Watch (HRW) het in reaksie gesê Zuma se sending om ’n politieke oplossing te vind, was van die begin af gedoem tot mislukking.
“Gaddafi se aandrang om aan die bewind te bly, is nie net onaanvaarbaar vir die opposisie nie, maar ook vir die hele internasionale gemeenskap – veral in die lig van die gruwelike dade wat sy soldate teenoor sy landgenote gepleeg het.
“Zuma moes Gaddafi met die bewyse van dié dade gekonfronteer het eerder as om aan hom die valse idee te gee dat daar dalk nog iewers vir hom ’n veilige uitweg is,” het Bouckaert gesê.
Navo het spesiaal vir Zuma se besoek sy lugbombardemente gestaak om te kyk of Zuma dalk Gaddafi kan oorhaal om die land te verlaat. Alle aanduidings is egter dat hernieude aanvalle op sleutelteikens, waaronder Gaddafi se wegkruipbunkers, gaan toeneem.
Brittanje het reeds bevestig dat hy 2000 pond-bunkerbrekerbomme gaan gebruik juis vir dié doel.
Dié Paveway-bomme is die grootste in sy soort in die Britse lugmag se arsenaal en is klaar na Gioia del Colle in suid-Italië versend vir gebruik deur die lugmag se Tornado’s en Typhoons. Dié bomme gaan nou ingespan word nadat nie een van die aanvalle tot dusver Gaddafi se bunkers kon vernietig het nie.
Die Paveway-bomme is soortgelyk aan dié wat destyds gebruik is om oudpres. Saddam Hussein van Irak se bunkers te vernietig.
Terselfdertyd staan Navo se vloot Apache-aanvalshelikopters ook gereed om Gaddafi se belangrikste militêre stellings aan te val.
Volgens ingeligtes is dié bombardemente daarop gerig om Gaddafi se militêre mag finaal te knak, veral nadat etlike van sy mees senior generaals die naweek landuit gevlug het.
Die Libiese regering het ook aan Zuma ’n onderneming gegee dat alles moontlik gedoen sal word om die oorskot van die Suid-Afrikaanse fotograaf Anton Hammerl aan Suid-Afrika uit te lewer.
Volgens diplomatieke ingeligtes het die Libiërs DNS van Hammerl versoek, omdat dit nou – bykans twee maande sedert hy op 5 April by Brega doodgeskiet is – onmoontlik is om sy oorskot aan beskrywings soos tatoeëermerke uit te ken.
- Volksblad