Zuma se vrou in seksskandaal
2010-06-03 14:27
Johannesburg – Die presidentsvrou, Nompumelelo Ntuli Zuma, wat tans saam met pres. Jacob Zuma in Indië is, bevind haar midde-in ’n seksskandaal.
Die Durbanse weekblad Ilanga het vanoggend berig oor verskeie onbevestigde beweringe wat in ’n brief aan die koerant gemaak is. Dié koerant vermoed die brief is deur lede van die president se familie geskryf.
Die brief bevat beweringe van ontrouheid, oneerlikheid, selfmoord en selfs vals kwalifikasies.
City Press, Rapport se susterskoerant, is in besit van die ongetekende brief.
Die ernstigste bewering in die brief is dat MaNtuli, soos sy bekend staan, ’n buite-egtelike verhouding met haar lyfwag, Phinda Thomo van Dobsonville, Soweto, gehad het en dat die vaderskap van haar ongebore kind bevraagteken word.
Dit is verlede week bevestig dat die presidentsvrou swanger is.
Die onbekende briefskrywers beweer ook dat Thomo glo sy eie lewe geneem het toe die buite-egtelike verhouding op die lappe gekom het.
Die inhoud van die brief vuur onlangse mediabewerings aan van ernstige huweliksprobleme tussen Zuma en sy tweede vrou. Hulle is in 2008 getroud.
Mediaberigte beweer daar is toenemende wrywing tussen die president se drie vroue. Die jongste skandaal kan ook vet op die vuur wees van die omstredenheid oor Zuma se poligamiese leefstyl.
Ilanga het uittreksels van die brief gepubliseer wat ’n prentjie skets van ’n verdeelde Zuma-familiestam, ernstige binnegevegte onder sy vroue en ’n buitengewone aanval op MaNtuli, wat van ontrouheid beskuldig word.
Die brief is ongeteken en sê slegs dat dit deur “bekommerde familielede” gestuur is.
Die brief haal ook voormalige werknemers aan van die liefdadigheidsorganisasie wat MaNtuli bestuur het. Dié werknemers sê sy het geheime afsprake gehad met haar minnaar by haar huis in Morningside in Johannesburg.
Ilanga het ook berig oor dokumentasie wat MaNtuli se kwalifikasies as ’n verpleegster bevraagteken en wat sê sy het as ’n skoonmaker in ’n hotel gewerk.
Die brief van twee bladsye is Maandag na Ilanga se kantoor gefaks.
Volgens dié koerant se bronne kan verskeie van die president se kinders verantwoordelik wees vir die brief.
City Press/Rapport is tans besig om kommentaar te probeer kry by Zuma se familie en MaNtuli.
- Het jy meer inligting oor dié berig? Kontak Nuus24 hier.
- City Press