Zuma se seun vra oor korrupsie in Durban
2011-11-22 12:37
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma se seun het hom gevra wat hy omtrent korrupsie in die eThekwini-munisipaliteit gaan doen.
Edward Zuma, wat in die gebied woon, het gesê daar is 'n jaar lange ondersoek na die bewerings van korrupsie, maar geen stappe word geneem nie.
Mens wat daaroor kla word van bakboord na stuurboord gestuur, het hy gesê.
"Probeer senior politici die saak toesmeer, en wat gaan jy omtrent korrupte eThekwini-beamptes doen?" het Edward Maandag op 'n sake-ontbyt in Durban gevra.
Zuma het aan sy seun gesê hy weet nie wat in die munisipaliteit aangaan nie, maar indien mense nie verbetering sien nadat hulle gekla het nie, moet hulle dit by sy kantoor aanmeld.
"As ek 'n klag ontvang, kan ek daarna kyk," het Zuma gesê.
Lennox Mabaso, woordvoerder van die departement van samewerkende regering in KwaZulu-Natal, het gesê baie mense het verkeerde inligting oor die ondersoek wat in April begin het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA