Zuma se seun skuld steeds R1,5 milj. vir troue
2012-09-30 17:03
Johannesburg – Die oudste seun van pres. Jacob Zuma skuld steeds R1,5 miljoen vir sy troue wat in 2011 plaasgevind het, is Sondag in 'n berig bekendgemaak.
Die Sunday Independent het berig die trouebeplanner Paul Mann het sy prokureur instruksie gegee om beslag te lê op die bates van Edward Zuma en sy vrou, Pumelele.
"Zuma is onbetroubaar, hy maak leë beloftes wat hy nie kan nakom nie, en ek is moeg van hom," het Mann aan die koerant gesê.
"Ek het aan my prokureur gesê ek stel nie meer belang in Zuma se stories, sy leuens en verskonings nie en hulle moet alles in hul vermoë doen sodat hy betaal, ek is moeg."
Edward het 'n deposito van R1 miljoen betaal vir sy troue wat R2,5 miljoen gekos het.
Mann het aan die Sunday Independent gesê hy moes sommige van die uitgawes dek terwyl hy vir Edward gewag het om die geld te betaal wat hy aan hom skuld.
Mann het in Mei 'n aansoek by die Durbanse hooggeregshof ingedien en beveel dat Edward jaarliks 15,5% van die uitstaande bedrag en rente aan hom moet betaal
Toe die balju by Edward se huis opdaag het hy 'n betaling van R400 000 gemaak en was toegelaat om sy bates te hou.
Die balju is in September weer opdrag gegee om beslag te lê op Edward se bates maar hy het vir meer tyd en 'n betalingsplan gevra.
Mann se prokureur het aan die koerant gesê 'n betalingsplan is opgetrek en aan Edward se prokureur gestuur. Maar dit is nog nie deur hulle geteken nie.
Edward en Phumelele Shange is in Oktober verlede jaar getroud en 'n onthaal vir 500 gaste is by die Tala-wildreservaat naby Camperdown buite Durban gehou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA