Zuma se opmerkings 'nie lasterlik' – ANC
2011-02-06 21:00
Johannesburg - President Jacob Zuma se opmerkings oor die hemel en die hel tydens ‘n saamtrek op Mthatha is “nie lasterlik nie en was nie bedoel vir intimidasie nie,” het die ANC Sondag gesê.
“Die figuurlike uitdrukking wat die President gebruik het, bly figuurlik en metafories,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“Ons is dit dus eens met die president dat om nié vir die ANC te stem nie, dieselfde is as om jou stem in ‘n brandende hel te gooi,” het hy gesê.
Mthembu het verwys na Zuma se toespraak oor die naweek, waartydens hy ‘n besluit om vir die ANC te stem gelyk gestel het aan ‘n besluit om hemel toe te gaan. Hy het gesê om vir ‘n ander party te stem, is om die duiwel te kies.
Die DA het fel kritiek op Zuma se woorde gelewer en gevra dat hy om verskoning vra vir die aanstootlikheid daarvan.
Mthembu het egter gesê dat wit en swart Suid-Afrikaners Zuma se figuurlike uitdrukkings en die kontekste waarin dit gesê word, geheel en al verstaan.
“Dié wat ‘ontsteld’ is oor die uitdrukkings, is waarskynlik jaloers omdat hulle nie self aan die uitdrukkings gedink het nie,” het Mthembu gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA