Zuma sê niks meer oor sluipmoord-komplot
2011-10-17 13:31
Johannesburg – Die komplot om 'n sluipmoord op pres. Jacob Zuma uit te voer toe hy adjunkpresident was, is nou "water onder die brug", het sy woordvoerder Maandag gesê.
"Die president het die saak opgebring in die konteks om sy ontslape lyfwag [Patrick Maphumulo] te vereer, en is nie bereid om verder daaroor te praat nie," het Mac Maharaj in 'n verklaring gesê.
Zuma het die afgelope naweek onthul dat daar 'n komplot was om 'n sluipmoord op hom uit te voer toe hy die adjunkpresident was, het The Witness berig.
Hy het gesê dié komplot is gefnuik deur die lojaliteit van sommige van sy lyfwagte wat geweier het om deel te wees van die plan.
Hy het dié onthulling in Umbumbulu, suid van Durban, gemaak toe hy honderde rouklaers by die begrafnis van kapt. Patrick “Sho” Maphumulo, toegespreek het. Zuma het gesê Maphumulo was een van die lyfwagte wat geweier het om deel te wees van die komplot.
Maphumulo is verlede Sondag dood nadat hy vermoedelik malaria opgedoen toe hy in Kartoem was vir die inhuldiging van die president van die nuutgevormde staat van Suid-Soedan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA