‘Zuma se libido bots met regeringsbeleid’
2010-02-04 07:02
Leopold Scholtz
Die Europese en Amerikaanse media het erg krities berig oor pres. Jacob Zuma se 20ste – buite-egtelike – baba.
Klem is gelê op die haglike MIV/vigs-situasie in Suid-Afrika en die verkeerde boodskap wat Zuma se sekslewe uitstuur.
Thomas Scheen skryf in die Frankfurter Allgemeine Zeitung die nuus dat Zuma nóg ’n buite-egtelike kind het, sou eintlik net vir die geel pers interessant gewees het, “was dit nie dat die libido van die Suid-Afrikaanse president met sy eie regeringsbeleid gebots het nie”. Hy haal Helen Zille, DA-leier, aan, wat meen Zuma is nog skadeliker vir die stryd teen MIV/vigs as oudpres. Thabo Mbeki.
Scheen herinner sy lesers dat Zuma ná die verkragtingsaak ’n paar jaar gelede ’n “reeks pynlike radio-onderhoude” toegestaan het “waarin hy gesweer het dat hy sy ligsinnige sekslewe sou verander... Dit lyk nie of hy uit dié ervaring geleer het nie.”
In die New York Times wys Barry Bearak daarop dat Zuma sy landgenote twee maande gelede tot verantwoordelike seks opgeroep het om die MIV/vigspandemie te stuit. Hy koppel dit daaraan dat Suid-Afrika net 1% van die wêreld se bevolking het, maar 17% van alle MIV/vigslyers. Hy sleep Zuma se poligamie en sy aanstaande troue met ’n vierde vrou ook by.
In die Washington Post skryf Donna Bryson poligamie word in Suid-Afrika toegelaat, maar “kundiges sê om tegelykertyd verskeie seksgenote te hê, verhoog die risiko van vigs”.
El Païs haal Zuma se woorde ná die verkragtingsaak aan – “ek moes versigtiger en meer verantwoordelik opgetree het” – en volg dit op met Zille s’n: “Sy optrede het die herinnering aan dié woorde uitgevee.”
- Beeld