Zuma sê hy is jammer
2010-02-06 17:15
Johannesburg – President Jacob Zuma het Saterdag gesê dat hy “erge berou het” oor die pyn waaraan hy sy familie, die ANC en Suid-Afrikaners blootgestel het.
Dít kom nadat Zuma vroeër hierdie week erken het dat hy ‘n buite-egtelike kind het.
“Ek het berou oor die pyn wat ek veroorsaak het,” het Zuma in ‘n verklaring gesê.
“Ten spyte van die feit dat dit ‘n private aangeleentheid is het dié voorval vir heelwat opspraak en publieke debat gesorg. Dit het baie druk op my gesin en my party geplaas.”
Die nuus van Zuma se beweerde twintigste kind het die afgelope week wêreldwyd soos 'n veldbrand versprei. Zuma het vroeër in ‘n verklaring gesê dat hy “volle verantwoordelikheid” neem vir sy aksies.
Die president het Donderdag alle publieke optredes afgestel omdat hy glo ‘n “blaaskans van sy besige skedule” wou hê.
“Ek het tyd gehad om te dink oor die kwessie en wil hiermee bevestig dat ek glo in die belangrikheid van ‘n gesin. Ek besef dat ek verskeie verantwoordelikhede as ‘n leier het en sal daarna streef om hieraan te voldoen.”
Die Saturday Star het ook berig dat ‘n 30-jarige man van Zimbabwe, Dudzai Nyamuramba, nou ook beweer dat hy een van Zuma se kinders is.
- Sapa