Zuma se blitslyn bly beset
2009-10-07 14:26
Pretoria - Sommige mense sukkel om na die presidensiële blitslyn deur te kom weens hoë volume oproepe, het president Jacob Zuma gesê.
"Ons is besig om aan die probleem te werk sodat alle oproepe die aandag kry wat dit verdien,” het Zuma tydens die bekendstelling van die presidensiële blitslyn, 17737 in Pretoria gesê.
Hy het gesê die feit dat sommige nie kon deurkom nie, nie in ‘n negatiewe lig gesien moet word nie, maar eerder as ‘n sukses beskou moet word.
Die hoë volume oproepe bewys dat talle mense wat hul bekommernisse met die regering wil deel.
"Ons sal voortgaan om die diens elke dag te verbeter totdat elke Suid-Afrikaner kwaliteitdiens met gerief kan ontvang.”
'n Opname wat in September gedoen is, het bevind dat die vrae en probleme baie ooreenstem en meestal te doen het met behuising, water en elektrisiteit.
Die kwessies rondom behuising het gewoonlik onvoltooide bouwerk en ontwikkelingsprogramme ingesluit, asook die vertraagde behuisingstelsel en korrupsie in die department.
Daar was ook baie vrae oor die department van arbeid wat verwys het na beweerde korrupsie, onregverdige afdanking en algemene probleme rondom werkloosheid.
Die blitslyn is daarop gemik om die regering meer toeganklik vir die publiek te maak.
- Sapa