Zuma se Zim-besoek nie in gedrang
2009-08-27 06:33
Heindrich Wyngaard
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma se beplande werksbesoek aan Zimbabwe gaan voort ongeag die vroeëre gerugte dat pres. Robert Mugabe siek is en vir prostaatprobleme in die Verre-Ooste behandel is.
Zuma sal vandag na Harare vertrek na afloop van sy vergadering met die leiers van opposisiepartye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig word.
Mugabe sal Zuma en sy gevolg vanaand met ’n staatsete verwelkom, het me. Nomfanelo Kota, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, gister gesê.
Zuma sal môre – in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap – met Zanu-PF en die twee MDC-faksies gesprek voer oor sake wat die eenheidsregering kan laat ontspoor.
Zuma sal ook ’n eregas wees by die 99ste Harare-landbouskou wat ten tyde van sy besoek aan die land plaasvind.
Kota het oor Mugabe gesê die Suid-Afrikaanse regering is ingelig dat hy die afgelope paar dae op besoek aan Doebai was “en waarskynlik laat vanaand (gisteraand) of môre (vandag) sou terugkeer huis toe”.
“Die besoek (van Zuma) is nie afgestel nie,” het Kota bygevoeg.
Die Media24-Afrika-kantoor berig ’n amptenaar van Zimbabwe se ministerie van inligting het gister gesê die gerugte oor Mugabe is “alles twak”.
“Die president het gister geland en hy is gesond en reg om te begin werk. Hy was met vakansie,” het die amptenaar gesê.
Gewoonlik kondig die presidensie aan as Mugabe uit die land is en wie in sy plek waarneem.
Dié keer was daar ’n sluier van geheimhouding oor waar hy was en die volk het eers van sy afwesigheid bewus geword toe die staatsmedia verlede naweek na visepres. Joice Mujuru as waarnemende president begin verwys het.
- Die Burger