Zuma se VK besoek eindig in herrie
2010-03-07 13:23
Suné Kitshoff
Johannesburg - Pres. Jacob Zuma se besoek aan Groot-Brittanje het met ’n herrie geëindig, net soos dit vyf dae gelede met ’n herrie begin het.
Zuma het Vrydagmiddag die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris gaan groet voordat hy en sy enigste vroulief op die reis, mev. Thobeka Madiba-Zuma, teruggekeer het na Suid-Afrika. Bykans 50 mense het buite in die koue gewag met baniere wat lui: “Skaam jou!” Hierdie keer was dit nie oor sy sekslewe en ander skandes nie, maar oor sy houding jeens sanksies teen Zimbabwe (hy het die Britse regering gevra om hul sanksies te verslap).
Boonop het ’n man met ’n Robert Mugabe-masker ’n besonderse plakkaat rondgeswaai: “Zuma, vat nog ’n vrou – dis op my!”
So hoe het die Zumas se week begin? Voor hul vertrek het die regsgesinde Britse koerant The Daily Mail in vetdruk die eerste salvo afgevuur: “Jacob Zuma is ’n seksbehepte dweper met 4 vroue en 35 kinders. So waarom flikflooi die Britte by die ellendige nar?”
Hulle het ook bespiegel Zuma het ’n tweeling by ’n Oekraïense vrou.
Zoom Zoom (The Daily Mail se bynaam vir Zuma) het gou voor sy vertrek teruggekap en aan die Suid-Afrikaanse koerant The Star vertel die “Britse kolonialiste dink ons is barbaars” en “hulle dink hul kultuur is beter as ons s’n”.
Daarna was die jag oop op die Zumas. The Independent het gesê “JZ” het maar ’n “rampspoedige maand agter die rug” met die raas-kry oor sy promiskuïteit en daarna die student wat aangeval is ná ’n handgebaar in die rigting van die presidensiële motorstoet.
The Guardian het stout gevra of Zuma se “kleurryke CV” Koningin Elizabeth II, die “bepaald monogame monarg”, sal afskrik.
Maar dit was nog maar Dinsdag.
Teen Woensdag was koerantopskrifte wêreldwyd ’n herhaling van die vorige dag in Londen en het die Britse media dekking gekry in Amerika, Australië, Ierland, Rusland, Frankryk – én Suid-Afrika.
Selfs jonkheer Julius Malema het sy naam in die Britse koerante gekry – of eerder vir Zuma verder in die moeilikheid laat beland – oor die nasionalisering van myne.
Malema was nie links nie (al is hy), of die ANC-jeugliga reik ’n verklaring uit waarin hulle hul “walging” uitspreek jeens die “koloniale” media wat “kaf verkoop oor onse president”.
Zuma het Donderdag op ’n mediakonferensie by 10 Downing Street, kantoor van die Britse eerste minister, Gordon Brown, gesê sy kritiek oor kolonialisme en die Britse kulturele hoogmoedigheid is buite konteks gelees; hy wou bloot bevestig Afrikane sien “kolonialisme” in ’n ander lig.
Toe Zuma regmaak om 10 Downing Street te verlaat het ’n verslaggewer van The Daily Mail gevra of hy poligamie by Brown sal aanbeveel, waarop “onse president” ’n eie handgebaar uitgeruk het – ’n waarskuwende wysvinger.
* Bronne: www.guardian.co.uk, www.dailymail.co.uk, www.independent.co.uk, www.telegraph.co.uk, AFP, BBC.