Zuma sal verslag oor Zim aan SAOG voorlê
2010-08-15 14:13
Johannesburg - President Zuma sal vandeesweek by 'n SAOG-konferensie 'n verslag voorlê oor die politieke situasie in Zimbabwe, het die Departement van Internasionale Betrekking en Samewerking vandag gesê.
Zuma is tans in Windhoek, Namibië om Maandag die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se konferensie vir staatshoofde en regerings by te woon.
"Die inklusiewe regering in Zimbabwe is besig om vordering te maak met die implementering van die globale politieke ooreenkoms deur die bemiddeling van Suid-Afrika," het departementele woordvoerder Saul Molobi gesê.
"Nietemin gaan die besprekings voort en hopelik sal daar nog positiewe resultate teen die einde van hierdie jaar wees."
- SAPA