Zuma sál optree teen Shiceka
2011-04-19 13:04
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma het gesê daar is genoeg rede om op te tree teen Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, oor bewerings dat hy belastingbetalers se geld misbruik, het The Star Dinsdag berig.
"Daar sal geen huiwering wees as die bewerings die waarheid is nie. Absoluut geen huiwering nie. Ek het dit in die verlede gesê. Daar is genoeg rede om op te tree," het Zuma gesê.
"Hier gaan daar aksie wees... en ons gaan nie eens lank neem om ondersoek in te stel nie, want die bewerings wat gemaak word is te ernstig."
Die Sunday Times het berig dat Shiceka glo R355 000 spandeer het op 'n besoek aan 'n minnares in 'n Switserse tronk, R640 000 oor 'n tydperk van 'n jaar om in 'n luukse hotel in Kaapstad te bly en meer as R160 000 om familie vir agt maande oor die land rond te vlieg.
Munisipale vragmotors is glo ook gebruik om water na 'n huis wat hy in Ingquza Hill in die Oos-Kaap bou, te vervoer. 'n Teerpad van R32 miljoen is op die roete van die huis gelê, terwyl ander inwoners nie paaie het om in woongebiede te kom nie.
Die Openbare Beskermer is deur die parlement se etiese komitee gevra om die saak te ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA